Ons Storie
Marais Bonsmara
Sedert Kobus Marais op 1 Maart 1979 op die plaas Kameelfontein in die distrik Postmasburg begin boer het, het hy groot klem geplaas op die verbetering van die natuurlike weiding en die ontwikkeling van ‘n weidingstelsel wat die risiko’s van droogtes aanspreek, maar ook optimale diereproduksie lewer. Oor die afgelope 25 jaar het hy weidingskundiges soos Drs Louis du Pisani, Herman Fouché en Mias van der Westuizen asook die plantkundige Paul Avenant by die verwesenliking van hierdie doelwit, later ook op plase in die Kalahari en in die Vrystaat, betrek. Hierdie span het deurlopend veldsamestelling in samehang met -opbrengs objektief gemoniteer, geёvalueer en by weidingsbestuur geïmplementeer met sigbare goeie gevolge.
Die seleksie van aangepaste diere is eweneens deurlopend as wesenlik belangrik vir winsgewende boerdery onder ekstensiewe omstandighede beskou en prestasietoetsing is reeds vroeg al by skape en beeste toegepas.
Die aanvanklike doel van Marais Bonsmaras (JSM) was om bulle vir Kobus se kommersiёle kudde te teel. Die kudde is op 15 September 2010 as ‘n lid van die Bonsmara Beestelersgenootskap goedgekeur. Charles Williams is as mentor aangestel. Die eerste basisdiere is deur Charles Williams en Willie Snyman gekeur. Bulle is hoofsaaklik by Charles Williams gekoop, asook by Johan Olivier, Frikkie Kruger en Genepoel. Die kudde het ontwikkel en uitgebrei, en op 18 Mei 2021 het Marais Bonsmaras saam met Johan en Gert Olivier van Bonka Bonsmara ‘n suksesvolle produksieveiling te Kuruman gehou.
Sedert die ontstaan van die kudde, is vrugbaarheidswaardes as ‘n wesenlike seleksienorm beskou. Saam met karkas-eienskappe soos onderhuidse vet, het hierdie benadering meegebring dat dubbelbespiering grootliks uitgeskakel is.
Ongeveer 40% van alle kalwers word deur middel van kunsmatige insemenasie verwek. ‘n Embrioprojek is gedurende 2020 begin. Die eerste embriokalwers is gedurende Oktober 2021 gebore. Hierdie projek hou opwindende moontlikhede in vir die optimale ontwikkeling van die kudde.
Oorsigtelik kan inderdaad gesê word dat Marais Bonsmara sedert die ontstaan daarvan ‘n toegepaste wetenskaplike benadering volg in die ontwikkeling van ‘n kwaliteitkudde van aangepaste Bonsmarabeeste wat met die minimum insette optimaal produseer om sodoende maksimaal netto wins te lewer.